’n Vreeslose vrou wat daarin glo om nie net haar kop omhoog te hou nie, maar ook dié van ander – dís wie Joani Jacobs (44), uitvoerende hoof van Mev. Suid-Afrika, is. Joani se reis in skoonheid, bemagtiging en die model-bedryf strek oor amper drie dekades. “Dit het alles begin met ’n diep begeerte om vroue te help om hul waarde te sien – nie net in die spieël nie, maar in hul identiteit, stem en doel,” sê sy. Sy is ’n trots Vrystaatse vrou, gebore en getoë in Welkom. Vir die afgelope 20 jaar het sy Johannesburg haar tuiste gemaak, waar sy haar lewe en haar besighede gebou het. “Ek is geëerd om baie rolle te vervul: uitvoerende hoof, mentor, ma, vrou, en bowenal ’n vrou wat getrou wandel in God se doel vir haar lewe.
“Ek het onlangs (op die ouderdom van 43) met die liefde van my lewe, Pierre, getrou. Saam maak ons ’n pragtige dogter, Jesse, groot wat ons gegrond en geïnspireerd hou. Ons is ook ’n saamgestelde gesin met Pierre se volwasse seuns, Morné en Ruan, wat ’n waardevolle en geliefde deel van ons reis is.”
Vir Joani beteken haar familie en haar geloof alles. “As ’n Christen-vrou glo ek werklik dat ek nie net sukses najaag nie, maar ’n roeping uitleef. My reis was een van baie seisoene, maar deur alles het ek altyd op God se tydsberekening en genade vertrou.”

Sy het self in 2009 die Mev. SA-titel verower, en het besef dat die krag van ’n kroon nie in die glinster lê nie, maar in die platform wat dit skep. “Van daar af het ek my toegewy tot die bou van stelsels, ruimtes en susterskappe wat vroue help om op te staan en vooruit te gaan. Ek is ook die stigter en uitvoerende hoof van Ace Models International, Suid-Afrika se voorste model- en persoonlike ontwikkellingsakademie, met meer as 25 takke landwyd.
“Vandag beskik ek oor uitgebreide ervaring as ’n entrepreneur, sakevrou, afrigter en mentor, maar nog belangriker – ek lei met my hart.
“Ek het oor die jare baie leierskap- en entrepreneurskapsprogramme voltooi, maar die meeste van my opleiding het uit die werklike wêreld gekom: die bou van handelsmerke, die leer uit terugslae, en ek het my omring met mense wat ’n doelgerigte lewe lei.”
Mev. SA is een van die groot skoonheidskompetisies in die land, en as uitvoerende hoof meen Joani is geen twee dae ooit dieselfde nie, maar dis waarvan sy van hierdie rol hou.
“ ’n Tipiese dag kan insluit om finaliste te mentor, oor borgskappe te onderhandel, mediaveldtogte te ontwerp, strategieë saam met my span uit te werk, of wêreldklas-produksies en -geleenthede te organiseer.”
As uitvoerende hoof dra sy die visie en waardes van die organisasie. Sy vervul dikwels veelvuldige rolle – van visioenêre leier tot operasionele direkteur, van openbare spreker tot ’n skouer om op te leun in moeilike tye. Dit is ’n voltydse verantwoordelikheid, maar een wat sy met trots en nederigheid dra.
Wat hierdie reis regtig buitengewoon maak, is die span invloedryke vroue saam met wie sy die voorreg het om te werk, sê sy.
“Ek word ondersteun deur ’n ongelooflike span en ’n inspirerende direksie. Dit is vroue wat nie net vaardig en ervare is nie, maar ook diep passievol oor ons missie is. Om jouself met die regte vroue te omring – diegene wat mense oplig, lei en in iets groter as hulself glo – maak ’n groot verskil. Dit is nie ’n eenvrou-vertoning nie; dit is ’n susterskap gebou op doel, passie en krag.”

Die Mev. SA-organisasie is volgens haar meer as net ’n kompetisie – dit is ’n beweging.
“Dis ’n kragtige platform wat die sterkte, skoonheid, doel en potensiaal van Suid-Afrikaanse vroue vier. Dit is ’n reis van transformasie, moed en groei, en ons eer die merkwaardige vroue wat daardie reis met grasie en vasberadenheid omarm het.”
Op die vraag oor wat sy die meeste geniet van die rol wat sy beklee, antwoord sy: “Om te sien hoe vroue reg voor my oë transformeer – van huiwerig na selfversekerd, van self-twyfel na selfvertroue. Om te sien hoe ’n vrou haar stem en krag herontdek, is werklik die mees lonende deel van hierdie rol.”
Haar doel is om vroue te inspireer om groot te droom, om met onwankelbare moed en selfvertroue enige raadsaal binne te stap of op enige verhoog te verskyn – en om hul lewe te lei met krag, doelgerigtheid en ’n onbeskaamde teenwoordigheid.
“As uitvoerende hoof het ek geweldig gegroei, sowel professioneel as persoonlik. Ek het die waarde van veerkragtigheid, die krag van gemeenskap, en die voorreg van leierskap geleer. Hierdie rol het my uitgedaag, gevorm en uiteindelik nader gebring aan God se plan vir my lewe.”
Die Mev. SA-organisasie lê baie na aan Joani se hart. “Dit is ’n ruimte waar vroue, wat dikwels almal anders voor hulself geplaas het, uiteindelik hulself kies.”
Volgens Joani gee Mev. SA vroue die geleentheid om weer te droom, te lei en diep te genees. “Dit bemagtig getroude vroue, moeders, sakevroue en leiers om hul volgende hoofstuk in te stap – onbeskaamd en eg. Hierdie organisasie is die bewys dat skoonheid en doel hand-aan-hand kan gaan, en ek is ongelooflik trots om ’n beweging te lei wat lewens op sulke betekenisvolle maniere verander.”

Haar toekennings
Joani sê sy is bevoorreg om deur die jare verskeie toekennings te kon ontvang, maar die ware beloning was om Mev. SA te bou tot een van die mees gerespekteerde en invloedryke vrouebemagtigingsplatforms op die vasteland.
“Een van my nederigste erkennings was om die Uitvoerende Hoof van die Jaar-toekenning te ontvang – ’n erkenning wat soveel beteken omdat dit nie net leierskap vier nie, maar ook impak, visie en uithouvermoë.
“Onder my leiding het Mev. SA uitgebrei, sy handelsmerkvennootskappe gegroei, sy sosiale impak versterk, en titelhouers opgelewer wat internasionale titels gewen het en ’n wêreldwye impak gemaak het. Om vroue te sien hul drome bereik, soos ons vele internasionale wenners, was ongelooflik spesiaal.
“Meer onlangs het oomblikke soos toe Tshego Galae (Mev. SA 2024) die eerste swart vrou geword het om Mev. Wêreld te wen, en Marelize Steyn Earle se oorwinning as Mev. Globe Classique op die ouderdom van 55, my hoendervel gegee. Hierdie oorwinnings verteenwoordig wat moontlik is wanneer vroue werklik bemagtig word.”
Sy sê nog ’n hoogtepunt vir haar was om die reis van hul kandidate waar te neem, tydens hul ontwikkelingsprogram en deur hul transformasie. “Om te sien hoe vroue blom, mekaar ondersteun en weggaan met meer as net ’n sash, maar met ’n gevoel van doelgerigtheid en hernude selfwaarde, is die grootste prestasie van alles.”

Belangrikheid van bemagtiging
Joani sê sy weet hoe dit voel om onderskat te word, daarom is dit vir haar belangrik om ander vroue te bemagtig. “Ek weet van die moed wat dit verg om op te staan, jou waarde terug te eis, en met hart te lei in ’n wêreld wat dikwels prestasie bo egtheid beloon.
“Bemagtigde vroue maak bemagtigde kinders groot. Hulle bou beter gemeenskappe, sterker ekonomieë en ’n meer deernisvolle wêreld.”
Die bemagtiging van ’n vrou gaan nooit net oor die vrou alleen nie, meen Joani. “Dit gaan oor die rimpeleffek wat sy skep. En as ek deel kan wees van daardie rimpel, dan leef ek my doel uit.
“Om Suid-Afrika se vroue te bemagtig, beteken om ’n nasie te skep waar elke meisie grootword met die wete dat haar stem saak maak, haar drome geldig is, en haar potensiaal grensoorskrydend is. Dit gaan oor die oopmaak van deure, die afbreek van hindernisse, en die bou van ’n toekoms waar vroue met moed, deernis en oortuiging lei.”

Haar toekomsplanne
“Ons werk daaraan om die reikwydte van Mev. SA uit te brei, ons ontwikkelingsprogramme te verdiep, en ons globale voetspoor verder te verhoog.
“Ons verken ook nuwe kompetisiekategorieë en impakgedrewe geleenthede, met ’n fokus op inklusiwiteit, volhoubaarheid en doelgerigtheid. Ek wil aanhou om platforms te bou waar vroue floreer, of hulle nou ’n kroon dra of nie.”
Volgens Joani is die Mev. SA-handelsmerk gebou op ’n fondament van kragtige, doelgerigte pilare wat meer doen as om die handelsmerk te definieer – hulle sneller transformasie.
“Hierdie pilare is nie net waardes nie; hulle leef in die beginsels wat die reis vorm van elke vrou wat deel word van die Mev. SA-familie. Elke vrou laat ’n blywende impak, nie net op haarself nie, maar ook op haar gemeenskap, haar bedryf, en die breër Suid-Afrikaanse verhaal.
“My droom is dat elke Suid-Afrikaanse vrou op ’n dag weet dat haar storie saak maak en dat Mev. SA deel gehad het om haar daaraan te herinner.”
Joani se raad aan elke vrou
“Jy is nie agter nie. Jy is nie te laat nie. En jy is nie te veel nie. Jou waarde is nie gekoppel aan jou titel, jou gewig, jou bankbalans of jou verhoudingstatus nie. Jy is genoeg – net eenvoudig omdat jy bestaan.
“Stap met trots in jou waarheid. Sê ja vir groei. Sê nee vir wat jou nie dien nie. En vertrou dat God se tydsberekening altyd perfek is, selfs wanneer jy nog nie die volle prentjie kan sien nie.”
This article was originally published by Danielle Daniëls on netwerk24.com.


